Sorgsame ouerskap – ‘n Goeie belegging

Tye het verander. Ouers werk baie ure in ‘n week en kom saans uitgeput tuis. Selfs die kinders is besiger as wat kinders ‘n dekade gelede was en rits van een aktiwiteit na ‘n ander sodra die skoolklok lui. Al wat ouers wil doen wanneer hulle tuis kom is om die skoene uit te skop en te ontspan.  As jy heeldag boonop met mense werk, wil jy verkieslik vir ‘n halfuur in geen gesprek betrokke wees nie.  Dit is geen ouer egter nie beskore nie.  Ouers word meestal begroet met ‘n krisis of drie om te hanteer saam met die gejaag van die aand se roetine. Die gevolg van dit alles is kinders wat meer tyd op sosiale media spandeer, gesinstyd (met gesonde gesinsaktiwtiteite) wat opgeoffer word en ouers en kinders wat verder uitmekaar dryf. As ouers nie doelbebewuste maatreëls instel om hierdie afwaartse spiraal teen te staan nie, is gesinslewe in ernstige gevaar.

Ek hoor hoe die ouers wat hier lees vra hoe dit moontlik is.  Dit is moeilik, vereis die kweek van nuwe gewoontes en die hantering van weerstand vanaf die kinders in die gesin. Maar dit ís moontlik én die moeite werd.  Hier is ‘n paar voorstelle:

  • Eet maaltye saam (sonder dat die TV blêr of die toestelle saam met ons aan tafel is)
  • Kook saam – Die hele familie kan deel wees van die kookproses en dit is boonop pret
  • Vind ‘n roetine wat werk – Kinders benodig roetine (en ouers ook)
  • Beplan pret aktiwiteite saam – Gebruik etenstye om te breinstrorm oor idees en werk saam as gesin om dit te beplan en uit te voer
  • Wees ‘n span – Elke lid van die gesin kan verantwoordelikhede in en om die huis hê sodat die kinders verantwoordelikheid kan aanleer en die ouers ‘n kans kan hê om waardevolle lewensvaardighede oor te dra
  • Skep  gesinstradisies – Jou kind gaan nie al die duur geskenke onthou nie, maar eerder die tradisies wat julle saam geskep het en aan deelgeneem het
  • Leer om na mekaar te luister – Aktiewe luistervaardighede is die sleutel tot goeie kommunikasie en gesonde gesinsverhoudings
  • Beplan afsprake met mekaar én kom dit na
  • Maak tyd om saam te speel – goeie outydse spel (los die tegnologiese speletjies doelbewus eenkant en maak emosionele kontak deur aanraking en deur mekaar in die oë te kyk
  • Skep geen tegnologie sones en tye in jou huis en respekteer dit

Wat ouers vandag belê in hulle verhoudings met hulle kinders gaan besliste dividente oplewer wanneer hulle die dag swakker is en van hulp en ondersteuning afhanklik is.  Bejaarde ouers het hulle volwasse kinders nodig.  Die mate wat die ouer in die kind se lewe betrokke was, is die maatstaf wat die kind in die ouer se lewe as bejaarde betrokke gaan wees. Of dit op dieselfde kontinent is of vanaf ‘n ander kontinent. Dit is soms moeilik om verantwoordelik te wees vir ‘n bejaarde ouer. Daarom is dit belangrik om te weet wat jou bejaarde ouer van hulle volwasse kinders benodig.  Hier is vyf dinge wat hulle benodig:

  • Duidelike kommunikasie – Volwasse kinders moet luister na hulle ouers, hulle bekommernisse ernstig opneem en hulle advokaat wees. Vermy dit om vir jou ouers te sê wat om te doen, maar bied keuses en help hulle met besluitneming.
  • Respek – Bejaardes smag na waardigheid en respek namate hulle omstandighede verander. Hulle het nodig om waardeer te word, sigbaar te wees, erken te word en herken te word. Daarom is dit belangrik om in ons interaksie met ons bejaarde ouers bedagsaam te wees, oopkop waardering vir die ouer se opinie te hê en geduldig te wees met hulle.
  • Hulvaardige hulp – Bejaardes wil nie ‘n las vir iemand wees nie.  Hulle benodig egter hulp met sekere take. ‘n Hulpverleningsisteem van interafhanklikheid teenoor afhanklikheid is dus meer verteerbaar vir bejaardes. Hulle het steeds baie om terug te gee.  Aanvaar hulle hulp met grasie.
  • ‘n Sin van beheer – oortuigings oor beheer het ‘n direkte invloed op fisiese en geestelike gesondheid van bejaardes. Fokus op die dinge wat jy van jou ouers waardeer sedert hulle ouer geword het, byvoorbeel hulle wyse raad en hoe hulle grootmaak van jou, jou lewe vandag beinvloed.  Vra dus maar gerus hulle insette.
  • Positiwiteit – ‘n Positiewe ingesteldheid kan ‘n mens se gesondheid en welstand ‘n hupstoot gee. Wees daarom positief in jou interaksie met jou bejaarde ouer. Sodoende behou hulle ‘n positiewe selfbeeld  en goeie geestelike gesondheid. Moedig hulle aan om betrokke te bly in aktiwiteite wat hulle vreugde verskaf.

Al die bogenoemde dinge het gebalanseerde ouers vir hulle kinders gegee terwyl hulle hulle grootgemaak het. Die rolle verander subtiel maar defnitief.  Sorg vir mekaar.  Die ouer-kind verhouding is waarskynlik die langste verhouding wat jy ooit sal hê.  Daarom is dit die moeite werd om daarin te belê as ouer en as kind.

Alida Jooste – Maatskaplike Werker/Bestuurder Gemeenskapsorg

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top
Review Your Cart
0
Add Coupon Code
Subtotal