Ons is in die laaste kwartaal van 2024. Ons het verlede maand die kans gebruik om bietjie terug te kyk. Dit het weer ‘n klomp energie losgemaak en ons herrinner aan hoekom ons hier is. In hierdie uitgawe vertel Daniel ons van lesse wat hy geleer het by die ysskaatsbaan en ek glo dat dit vir julle net so waardevol sal wees as vir my. Ons kyk ook oppnuut na gemeenskapwees en hoe dit in die kern van Ligstad se DNA vasgevang is. Ligstad se DNA is Christus en ons kan nie anders as om telkens te getuig van God se werk deur ons hier by Ligstad nie. Vergewe my as ek effe wetenskaplik raak vir ‘n oomblik. DNA is die molekule binne selle wat die genetiese inligting bevat wat nodig is vir die ontwikkeling en funksionering van ‘n organisme. As ons dus sê dat Christus en gemeenskapwees in ons DNA vervat is, sien ons hoe ons natuurlik neig na programme en vennootskappe waar Christus die gemeenskap gebruik om Sy werk te doen. Ons funksioneer daarom ook beter in totale afhanklikheid van God se leiding. Sodoende is die organisme wat ons Ligstad noem gefokus op God en ons gemeenskap. Ons kan nie anders nie. Dit is ons DNA.
Ligstadgroete
Alida Jooste –Maatskaplike Werker/Gemeenskapsorgbestuurder & Redakteur
