Ek wil myself en elkeen wat hier lees in die uitgawe weer herrinner aan wie ons gemeenskap is. Dalk is dit nuus vir ons, maar ek is seker daarvan dat elkeen van ons die herrinnering benodig. Soos die Fariseërs vir Jesus gevra het wie hulle naaste is en ‘n eerlike antwoord gegee is (wat hulle nie van gehou het nie), mag ons ook vra wie is op ons voorstoep in ons gemeenskap. Kom ons kyk of ons tevrede is met die antwoord. Die gemeenskap bestaan uit mense van alle rasse, ekonomiese groepe, godsdienstige groepe, geslagte, tale en kulture. ‘n Gemeenskap is baie individue wat saamwoon en/of werk en wetend of onwetend ‘n versameling van mense word wat mekaar se lewens raak. Baie mense in hierdie gemeenskap bly hulle lewe lank onbewus van die feit dat hulle ander se lewens impakteer. Ander weer is oorbewus daarvan, word oorweldig deur die nood om hulle en beweeg weg om die gemeenskap vanuit die buiterand van die gemeenskapskring dop te hou. ‘n Ander groep individue in die gemeenskap kies om te leef binne die gemeenskap. Hulle skuur skouers met almal in die gemeenskap en word bewus van individuele sterktes en gebreke. Hulle sien geleenthede raak waar hulle almal in die gemeenskap se sterkpunte kan gebruik om kollektief ‘n sterker gemeenskap te verseker. Hulle verstaan dat die gemeenskap net so sterk is soos sy swakste skakel. Wanneer daar doelbewus aandag gegee word aan skakels wat versterking nodig het, skep ons ‘n gemeenskap wat enige uitdaging suksesvol kan hanteer. Want sien, ons is saam soveel sterker as al die individuele pogings wat die sterkste individue in die gemeenskap kan aanpak. Wie is dus ons gemeenskap? Gaan kyk in die spieël. Ja, jy is deel van die gemeenskap. Jy en jou gesin, jou vriende, jou kerk en die vreemdeling wat saam met jou by die winkel in die ry staan. Ons het mekaar nodig. Ligstad is in die besigheid van gemeenskapwees. Jy is deel van ons gemeenskap. Jy as gemeenskapslid kan waarde toevoeg, wegneem of weerhou van ‘n swakker skakel in ons gemeenskap. Meld aan in jou (ons) gemeenskap en ontdek die krag wat lê in saamwerk as gemeenskap.
Alida Jooste – Maatskaplike Werker/Bestuurder Gemeenskapsorg
