Ek het die afgelope paar weke weer die vreugde van gee ontdek. Ons leef in ‘n verbruikersamelewing waar ‘n kultuur heers van wat kan ek hieruit kry? Wat het jy vir my? Ja, ons het goed nodig en die realiteit is dat my eie behoeftes my gedrag bepaal. Ons val maklik in die strik wat ons selfsugtige natuur vir ons stel. Maar wanneer dit ons fokus is, is die geluk wat ek put uit wat ek gekry het van korte duur. Die blywende vreugde (met al sy byprodukte) kom maak homself tuis in ons harte wanneer ons van onsself gee sonder om iets terug te verwag. Die vreugde word verder deur ons are gepomp en vul ons hele wese. Ons gee want ons het ontvang. Ons ontvang nog ‘n dag om ‘n verskil te maak in ons wêreld. Ons ontvang gesonddheid, lewenskrag, ons vermoëns, geleenthede en vele meer om te gee aan iemand wat dalk vandag vir my nodig het. Net soos ek is. Sonder fieterjasies. Die egte ek wat in die presiese oomblik hier is om te gee wat ek het om nou te gee. Soms is dit ‘n glimlag. Soms ‘n woord van bemoediging. Meestal is ons teenwoordigheid al wat iemand nodig het om deur ‘n moeilike situasie te kom. Selfs terwyl ons ontvang kan ons gee. Ons gee dankbaarheid. Ons gee hoop. Ons as ontvanger gee die gewer die nodige aanmoediging om nie op te hou gee nie. Die gewer en die ontvanger verwissel aanhoudend rolle. Dikwels ontneem ons onsself die geleentheid om te ontvang omdat ons trots in die pad staan. God seën ons graag deur ander wat iets vir ons gee. Ek het het die laaste paar weke soveel ontvang vanaf die wat ek kon bedien. By die Street Store, in my kantoor, by die aftree oord waarheen GiG uitgereik het en terwyl ons gesiggies geverf het by Alberton-Wes se basaar. Ek is ryker omdat ek kon weggee. Mag jy ook die waarheid ontdek en beleef.
Ligstadgroete
Alida Jooste –Maatskaplike Werker/Gemeenskapsorgbestuurder & Redakteur
