Ons gaan die feestyd in. Dit is ‘n tyd van familie en vriende wat tyd met mekaar spandeer. Bande word verstewig, prestasies word gevier en almal is net bloot in ‘n seisoen waar ons na ‘n jaar se gejaag weer tyd het om mekaar se geselskap te geniet. Of is dit? Baie mense in ons gemeenskap vrees die feestyd. Dit is tyd wat hulle herrinner aan geliefdes wat nie meer hier is nie, verhoudings wat so beskadig is dat dit menslik-gesproke nie herstel kan word nie. Waar ander prestasies vier word hulle herrinner aan die jaar se moeilikheid en hulle eie mislukkings. Daar is dikwels niemand met wie hulle die feestyd mee kan deurbring nie. Ons neem die vreugdes van die feestyd as vanselfsprekend en vergeet dikwels die skadukant van die feestyd. Dis die tyd wat baie vrees. Dit is nie lekker om niemand te hê saam met wie jy Kersdag kan deurbring nie, of om nie die finansies te hê vir selfs ‘n eenvoudige maaltyd op die dag nie. Dan het ons nog nie eers aan die gebrek aan‘n bederfie in die vorm van ‘n geskenk gedink nie… As die feestyd vir jou jou ‘n vreestyd is hoef jy dit nie net in sak en as te aanvaar nie. ‘n Kopskuif oor jou omstandighede sal jou ver bring. Maak jou vreestyd ‘n tyd om gebroke verhoudings te herstel. Gebruik die rustiger pas om na iemand uit te reik. So neem jy die fokus van jou eie “moeiike” omstandighede af en deur na buite te fokus ontdek jy weer die vreugdes wat jy dalk verloor het. Het jy foute gemaak deur die jaar en staar dit jou in die gesig in die feestyd? Neem beheer en maak dít reg waaroor jy beheer het. Geen fout is so groot dat dit nie herstel kan word nie. Waar jy jouself ookal op die kontinuum van Feestyd/Vreestyd bevind daar is hoop en aan elke kant van die kontinuum en die oplossing lê binne jou. Dit gaan oor jou ingesteldheid teenoor jouself, ander en die lewe. Maak jou kopskuif en beleef die FEES van die feestyd.
Alida Jooste – Maatskaplike Werker en Bestuurder Gemeenskapsorg
