Ons glo elke vriend van Ligstad het ‘n wonderlike en geseënde Paasfees beleef. Die naskoolkinders het ‘n tyd van rus gehad en is gereed om die nuwe kwartaal aan te pak. Ons sien uit na ‘n klompie aktiwiteite in hierdie kwartaal. Ons kinders gaan 5 April DV deelneem aan ons jaarlikse Paasfeesuitreik. Hulle gaan paaseiers, t-hemde en Hoop uitdeel aan lede van die Albertonse gemeenskap. ‘n Week daarna gaan die seniors van die naskool ‘n uitslaap geniet gevolg deur ‘n besoek aan die Huddle golf- en ontspanningspark en die Johannesburg dieretuin. Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ligstad se personeel, kinders en ouers is wonderlik. Ons asem vars lug in en kan tyd saam met geliefdes in vrede geniet. Hierdie is alles dinge wat mense in ander dele van die wêreld net voor kan hoop en bid. Soms is dit net nodig om vir ‘n oomblik stil te raak en God te dank vir alles wat Hy vir ons gedoen het en vir al ons seëninge uit God se hand. Sterkte vir elkeen wat hier lees vir die kwartaal wat op ons wag. Ons kan alles hanteer in die wete dat God vir ons veg en niks of niemand teen ons kan staan nie. God is met ons … Immanuel.

Daniel Viljoen – Ligstad Operasionele Bestuurder
